Beet bly ‘n bliksem
Hoekom is alles wat sleg is vir ‘n mens se gesondheid, lekker en alles wat goed is, sleg? Kyk, ek probeer gesond eet, maar daar is net iets meer aantreklik aan ‘n 500 gram halfrou fillet met ‘n onnodige hoeveelheid mushroomsous, as ‘n bak vol blare. Hoekom kan groente nie soos uitgebraaide skaapchopvet proe nie? Dink net hoeveel beter ons verhoudings met ons ouers sou gewees het; geen meer getrek aan boetie se ore omdat hy nie sy Kool wil opeet nie, geen meer verwyte omdat jy voor die hele familie gekots het, net omdat Pampoen vir jou soos hondekak proe nie. In moet dit mos, anders bliksem jou pa jou voor die nefies en dan huil jy soos ‘n moffie sonder mineraalwater en dan… sorry, kak herinderinge.
Dink net hoeveel mooi, maer, puisielose mense daar sou gewees het as Sjokolade soos Beet geproe het en Kondensmelk soos Blomkool. Ons sou almal met sulke ingeduikte wange en hoë wangbene rondgeloop het soos die mense van “Bold” en “Days”.
Van daardie mense gepraat; wat eet julle ouens, fokkit, as ek met so ‘n deur-vyfhonderd-perdebye-gesteek lyf by die universiteit se swembad instap, sal ek die vroumense met stokke van my moet afhou.
Ek wonder dikwels hoeveel onaangename gebeure nooit sou plaasvind, as gesonde goed lekker was. Napoleon sou verseker nie so ‘n mislike klein mannetjie gewees het as hy nie daardie maagsweer gehad het nie. En Hitler sou heel waarskynlik nie soveel haat in hom gehad het nie – wie weet, miskien het sy ma hom gedwing om gepekelde Aspersies en rou Uie te eet. Aan die ander kant sou daar seker ook nie sulke, meestal onverstaanbaar-wonderlike skrywers soos Proust en Hemmingway gewees het nie. Daar moet ‘n rede wees hoekom hulle sulke elle lange meesterstukke kon pen. Die arme mans was seker te bang om agter die skryfblokke uit te skuif, in die vrees dat hulle vroue hulle vol Agirtjies of Stampmielies sou stop. Dit kan miskien moontlik wees, maar dammit Beet is sleg, amper slegter as ‘n wêreld sonder Hemmingway. Dit word ook nie lekkerder met tyd nie, maak nie saak hoe oud jy is nie, Beet bly ‘n bliksem.
Maar mense, die Wetenskap gaan so vinnig vooruit dat hulle heel waarskynlik eendag hierdie bitter pil wat ons almal daagliks moet sluk in die naam van gesondheid, in ‘n Smaartie kan verander. Ek lees vanmôre weer van mense wat betoog teen GM-kosse. Ek sê fok hulle – laat die slim mense in die wit jasse aanhou om ‘n paar molekules te nuke. Solank hulle Blaarslaai soos Karamel kan laat proe, sal ek nie omgee om twee ekstra vingers te groei nie.
Die Wit Rus