Afrikaanse Anthrax in ´n elektroniese koevert
My liewe, getroue, wonderlike lesers. Ek het gister ‘n e-pos ontvang wat my tot in my murge gepynig het, wat my van laat aand tot smoors sal laat rondrol in die kooi. My nagmerries gaan gee en my na selfveragting sal dryf. Yea right!
Die armsalige poepol wat die ou possie gestuur het skryf; “Jou inleiding het my heeltemal afgesit om verder te lees. Bly maar by die klipdrift.”
En dis al. Net dit. Kort sinne. Dat hy/sy nie deurmekaar word nie. Ook nie ‘n naam by nie. Het seker maar vergeet. En Klipdrift word ALTYD met ‘n hoofletter gespel jou hondsvrot!
Ek wou eers aan die persoon terugskryf, maar het besluit om eerder my pyn met jou, my dierbare ondersteuner te deel - verwys weer Langenhoven se woorde; “Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir jou vriend...”
Ek wou skryf; “ag fokkit foeitog” of “dankie vir die positiewe kritiek, jou idiotiese, kretinistiese, snobistiese, lae drek, gedroogde joodse voorvel, verskoning vir ‘n resensent, kommin, spietkop braaksel, Marthinus van Schalkwyk asem, alkolvrye bier, stuk aasvoël baarmoeder, brandsiek jentoe.”
Maar ek gaan nie.
Ek wou eerder die energie spaar en myself tot selfondersoek wend om seker te maak ék doen nie dalk iets verkeerd nie.
Wat sal hierdie persoon so afskuwelik in my inleiding vind? Hier is dit, lees dit self;
Hieronder is ´n paar stories en gedagtes wat ek na die inname van groot volumes Klipdrift geskryf het.
Ek sal probeer om elke week ´n nuwe een onderaan by te sit.
Print gerus vir jou ´n paar uit en hou dit in die toilet waar dit die lekkerste lees.
Dan kan jy sommer jou gat daarmee afvee as jy nie daarvan hou nie.
Baie dankie aan al die mense wat as inspirasie vir die stukke gedien het.
Geniet dit, maar wees gewaarsku; dit is nie vir sensitiewe lesers bedoel nie!
Kom ons neem reël een;
Kon die persoon dalk aanstoot geneem het omdat ek na sy/haar mening te veel drink, of is hy/sy dalk ‘n Richelieu ondersteuner? Verkies die persoon eerder jenewer? Weet hierdie persoon dat ek forseer word om groot volumes Klipdrift te drink, om mense soos hy/sy darrem effens iteressant te maak? Is die persoon jaloers omdat hy nie te dikwels gedagtes kry nie? Het sy/haar ma nooit vir hom/haar stories gelees nie?
Reël twee;
Kan hierdie persoon dalk nie begryp dat enige mens sy eie brein van hoek tot kant wil bereis, net om elke week ‘n stukkie te pen wat ander mense plesier bring nie? En dit totaal en al uit die liefde van die saak? Dink die persoon dat ek betaal word om my volksgenote se leeslus te probeer prikkel? Kan die persoon nie begryp dat ek oneindige vreugde daaruit put om te hoor dat iemand as gevolg van een of ander paragraaf in ‘n stuk, ‘n boek gaan oopslaan het om meer van René Descartes uit te vind nie?
Reël drie;
Het hierdie persoon nie ‘n drukker (dis nou ‘n printer) nie? Het hierdie persoon ‘n persoonlike vendetta teen ligte vloekwoorde of kras (dog eerlike) stellings? Het hierdie persoon dalk nie ‘n toilet nie?
Reël vier;
Ek weet opgefrommelde Rotatrim papier is effe hard op die wange daar benede (moenie vra nie), maar is dit nou nodig om ‘n hele lys van stories net daaroor af te skiet?
Reël vyf;
Hierdie persoon kon moontlik nog nooit as inspirasie vir enigiets of enigiemand gedien het nie, wat baie hartseer is, maar nou regtig: Nie my fokken probleem nie!
Reël ses;
Was die persoon se ma een van daardie tannies wat ‘n handdoek by die tv gehou het en dan oor sy/haar se kop gegooi het as daar te veel cleavage op die kassie wys? Is die persoon so ‘n sensitiewe leser dat hy oor die Clivia’s in die tuin moet gaan braak elke keer as hy/sy die woord poep lees? Weereens: Baie hartseer, maar nie my probleem nie.
Ek het geen antwoorde op die bogenoemde vrae nie, omdat geen grief gelig is, geen details gegee is en geen ballas aan die kant van die skrywer/skryfster getoon is nie. Dit is verskriklik jammer. Ek verwelkom juis kritiek. Hoe anders gaan ek weet as ek iets verkeerd doen of iemand onnodig seer gemaak het tussen die letters op hierdie webtuiste. Hoe gaan ek weet of ek skryf wat mense wil hoor? Solank die kritiek weldeurdag en soner mala fide bedoelings gelewer is, sal ek uit my pad gaan om enige feite reg te stel en kras woorde of stellings te verander nadat ek oortuig is daarvan dat ék verkeerd is.
Al sal die persoon dit seker nooit lees nie wil ek, eie aan sy/haar agterbakse manier, vir hom/haar iets agter sy/haar rug hier plaas:
Ek sal my hele lewe lank veg om die nutuur van mense soos jy wortel en tak uit te roei. Mense wat ongegronde kritiek wild en wakker lewer sonder om regtig enige gronde of redes daarvoor te verskaf. Mense wat dink hulle is so almagtig dat hulle die gevoel, passie, liefde en haat van meer as sewentig skryfstukke in slegs ses sinne kan beoordeel. Dis mense soos jy wat toelaat dat ‘n wig tussen ons afrikaanse mense ingedryf word, wat ons verswak en uiteindelik van ons ‘n weerlose volk wil maak vir redes wat vir my totaal en al duister is. Die feit dat jy enigsins aan my geskryf het getuig daarvan dat jy niks beter met jou tyd te doen het as om ander af te kraak en te verkleineer nie. Of dit nou is omdat jy suur is omdat jy geen talent, ambisie, persoonlikheid of trots het nie, sal ek nou nie weet nie. Die feit bly staan; jy en jou soort is die afrikaanse taal se grootste vyand. Nie die regering, swart mense, die kommuniste of die engelse media nie.
Jy is ‘n terroris, eng in jou begrip van hoe ‘n taal ontwikkel, groei en lewe.
‘n Kleinlike mens wat ons taal van binne wil aftakel.
‘n Trojaanse perd wat wag om sy toepe uit te mors tussen die mure van ‘n stad wat gebou is met bloed, sweet, kreatiwiteit en uiteenlopendheid.
Die wêreld het van 2001 besef dat hulle vyande nie meer in een land skuil met wie hulle kan oorlog voer nie, maar dat die terreur deesdae van binne kom. Ons sal vir die behoud van ons taal ook nou só moet veg. Dit maak verskriklik seer dat die aanslag teen die onderlinge ondersteuning binne ons taal nie vanaf die mense kom wat ons as Afrikaans se self-erkende vyande ag nie, maar vanaf ons eie mense. Vanaf ‘n afrikanerhart wat vrot in die borskas van ‘n paar inhalige, selfsugtige, bemoeialle, selfbejammerende, filistyne klop.
Die groot rede hoekom ek nie vir hierdie persoon gaan terugskryf nie, is omdat ek hierdie woorde van Mark Twain onvoorwaardelik glo;
“Keep away from people who try to belittle your ambitions. Small people always do that, but the really great make you feel that you, too, can become great.”
Die Wit Rus