Dís hoe ek vir Anna wil onthou

 

In my standerd-vyf klas was daar ´n meisie met die naam Anna Schaap. Anna was nog vreemder as haar van. Sy het nooit soos die ander meisies pouse gesit en giggel nie. Sy´t ook nooit na ´n sport byeenkoms gegaan nie en elke L.O. klas was sy agter ´n boek in die biblioteek. Behalwe vir haar vreemd hede het niemand haar gespot nie. Sien, Anna het ´n onbeskryflike skoonheid aan haar gehad, waaraan woorde geen reg doen nie. Dit was ´n hemelse mooi soos ´n robyn-rooi sonsondergang of die sagte mis wat vroegoggend om ´n sneeubedekte bergpiek hang. Haar oë was ys-blou, soos diep, koue kolkende water in ´n bergpoel en sy´t sulke láng bene gehad wat altyd bruingebrand was. Anna speel ´n groot rol in my jeug, nie net omdat ek nog nooit weer so ´n byna goddelike mooi beleef het nie, maar vir ´n ander, veel belangriker rede; Anna Schaap was die eerste meisie wat ek gevry het. Of eintlik, wie my gevry het - ´n standerd 5 lightie weet mos veel meer van ´n rugbybal as van meisiekinners...

 

Dit was ´n warm oggend in Februarie wat Anna my in die ry voor die wiskunde-klas na haar oom se troue genooi het. Ek het my natuurlik in ´n trans in geskrik en bloedrooi geraak. Hier het die mooiste meisie in die skool, met mý kom praat. As ek skaam raak vir ´n aster kan ek mos die simpelste goed kwytraak op aarde - probeer natuurlik nonchalant voorkom. Ek dink ek het iets gesê soos; ¨ ek sal sien, oukei, as ek nie rugby speel nie ¨.

 

Om Anna se telefoonnommer te kry was nou vir jou ´n ander operasie. In die laerskool is dit mos buite die kwessie om die meisie self te vra. Ek moes vir een van my vriende ´n piepklein briefie gee om vir sý meisie te gee, dat sy dit weer vir ´n ander meisie gee wat vir Anna ken en dan sou die briefie weer deur die netwerk terug syfer na my toe. Na die proses het die hele skool geweet ek soek Anna se telefoonnommer. Vir die vier dae tot Vrydag is ek van kop tot tone uitgekyk deur my mede-skoliere. Die gesigte van die kinders wat my in die gange beloer het was klasiek, uitdrukkings van jaloesie en respek het my oral na-gestaar.

 

Die reëlings wat ek later die dag met Anna getref het was vreeslik formeel en met ´n bewerige stem gemaak; Anna se ouers sou my vroeg die Saterdag-oggend kom oplaai en ons sou die 4 ure na Donkerfontein toe ry. Die oom en tannie was vreeslik vriendelik en ek het gewonder hoe díe twee so min na hulle ernstige, eenkant dogter kon aard. Maar hoe verder ons uit Pretoria gery het, hoe meer het Anna verander. Haar koue oë het al meer begin glinster, sy het begin glimlag en teen die tyd wat ons naby aan Donkerfontein was het sy soos ´n regte skool dogtertjie gegiggel oor die simpelste goed. Die laaste uur in daardie kar was vir my hemel. Ek en Anna het langs mekaar op die agterste sitplek gesit, ek dink dis die eerste keer in my lewe wat ek agtergekom het meisies is ook regte mense wat oor karre en rugby kan gesels. Ek het eers veel later besef hoekom Anna haarself so eenkant gehou het, sy was nie ongeskik, of dom, of skaam nie. Anna het die stad gehaat, al die beknopte tuintjies en die baie karre. Sy was ´n plaasmeisie in murg en been wat veel eerder perd sou ry as om te gaan fliek of in die winkels rond te hang.

 

Anna was ´n strooimeisie, so ek en die oom het saam na die kerk toe gery en langs mekaar gesit. Ek glo nie ek sal ooit weer in my lewe so voel soos toe Anna by daardie kerk instap nie. Met haar wit somerrok, gevlegte hare en ´n krans van piepklein blommetjies op haar kop het sy nes ´n engel gelyk. Dit het my soos ´n hou in die maag getref; hierdie, was die ¨verlief-wees¨ ding waarvan ek al gehoor het. Natuurlik het ek nie ´n woord van die preek gehoor nie. Ek het vir haar gesit en staar soos ´n honger, oorgewig tannie vir ´n stuk kaaskoek. Haar pa, wat langs my gesit het, het lekker gelag toe hy my vang kyk. Ook maar goed hy het my nie ´n oorveeg gegee nie.

 

By die onthaal het Anna my geleer dans. Elke keer wat sy aan my geraak het, het ek van kop tot tone hoendervleis gekry. En so teen tien uur se kant gebeur dit toe. Sy´t my aan die hand agter die skuur ingelei, gesê ek moet my oë toemaak en my gesoen. As ek eendag in die hemel is sal my hele lewe net uit daardie een oomblik bestaan. Dit was die lekkerste lekker wat en nog beleef het, ´n ander lekker, nie soos om rugby te kyk en biltong te eet nie. Absolute ekstase.

 

Terug in Pretoria het Anna se oë weer oor gewasem, ek het ´n paar keer by haar gaan kuier in die biblioteek, maar dit was duidelik dat die regte Anna in Donkerfontein agtergebly het.

Sy en haar familie het na skool weggetrek na ´n ander dorp toe. Ek het net twee keer na skool weer van Anna gehoor. Die een keer het ek haar raakgeloop by ´n landbou-skou in Boshof. Sy het uiteindelik vir haar ´n ordentlike van gekry. Sy het getrou met ´n ene Pieter Verster, ´n groot boer in die Vrystaat. Al was dit effens hartseer om te weet sy sal my nooit weer agter die skuur soen nie het ek gesien sy het geluk gevind. Sy was heeldag omring deur die groot oop vlaktes en plaasdiere wat sy so lief gehad het.

 

Die tweede keer wat ek van Anna gehoor het was toe ek vanmôre die koerant oopslaan en ´n skokkende berig raaklees. ´n Prominente boer en sy vrou is op die plaas Ysterdoring dood in ´n plaasaanval. Hulle name was Pieter en Anna Verster. Anna is ses keer verkrag nadat haar man voor haar doodgeskiet is. Sy is daarna in die gesig geskiet met ´n haelgeweer.

 

 

Anna Verster het ´n onbeskryflike skoonheid aan haar gehad waaraan woorde geen reg doen nie. Dit was ´n hemelse mooi soos ´n smarag-rooi sonsondergang of die sagte mis wat vroegoggend om ´n sneeubedekte bergpiek hang. Haar oë was ysblou soos diep, koue kolkende water in ´n bergpoel en sy´t sulke láng bene gehad wat altyd bruingebrand was... En sy kón soen.

 

Dís hoe ek vir Anna wil onthou.

 

 

 

Die Wit Rus