Amarula en Tequila
Een aand is ek en 'n paar vriende Hartebeespoortdam toe om te gaan uitvind hoe drink die kroeë daar. Ons haak toe vas by 'n plek met die naam “Die Watergat”. Die eienaar van die plek het toe so lekker saam gekuier dat hy besluit het om sy surplus Amarula en Tequila met ons te deel – word mos vrot as dit te lank staan. Na 'n paar bottels bereik ons toe konsensus dat almal baie lief is vir mekaar, al is ons nie moffies nie en dat Die Watergat heel waarskynlik die heel beste kroeg in die heelal is. Teen vieruur se kant ry ons toe maar plaas toe om daar te gaan slaap. In die plaashuis op 'n baie ongemaklike matras begin die Amarula toe rebelleer teen die volksvreemde wit drank in my maag, en daardie aand kry ek toe 'n droom reguit uit die hel;
Ek droom ek stap by 'n Krimetart boom in wat in 'n kroeg omskep is. Maar toe ek eers binne is, sien ek die plek is om en by so groot soos die Uniegeboue. Daar sit 'n leeu en 'n olifant bier en drink, terwyl Jonty die veldwagter grappe oor die mikrofoon vertel. Aan die ander kant van die 10 meter lange kroegtoonbank, is daar 'n paar tafeltjies wat deur pikkewyne in haas kostuums bedien word. In die hoek sien ek 'n groot beer wat besig is om met Goue lokkies te vry. 'n Ou vlakvark hier langs my sê; “as sy vrou hiervan uitvind is dit skeisake”. Die vlakvark koop toe vir my 'n paar doppe en ons begin praat oor die tekort aan soetgras in die laeveld en hoë tandartsrekeninge. Net toe bars daar 3 mexikane met sulke snore soos Harley Davidson handvatsels by die deur in en Speedy Gonzales skree van een se hoed af; “kill them all !”. Ek wil nog weghardloop maar gelukkig tackle Rina Hugo hulle in die kortrib en Koos Kombuis bind hulle vas. Speedy word in 'n glas bier verdrink en die partytjie gaan voort. Maar dit gaan te jolig, Jakkie Louw speel Wiltuin Boogie op 'n banjo en almal sing saam.
Ek het dit net begin geniet, toe verskyn twee inboorlinge van nêrens met Trevor Manuel op hulle skouers. “Die prys van drank gaan volgende maand met driehonderd persent styg”, skree Trevor en gee so 'n demoniese lag. “Maak vrek die bliksem” skree Nataniël agter 'n strawberry daquiry uit. En daar in die Kremetartboom breek die grootste opstand in mense heugenis uit. Dis net plakate en banners. Ek skree nog; “ek's wit, ek riot nie” toe gooi so dik gorilla my op 'n vlot en ek land langs die joolkoningin. Sy's toe ook maar lekker ongeskik en moer my met haar septer oor die kop. “Vatso, jou pleb” skree sy en gooi my van die vlot af. Ek wou sê ek laat nie aan my slaan nie, maar sien toe daar is 'n klein troppie skape besig om op my tong te wei, en sulke klein mensies wat al die spoeg tussen my smaakpapille opmop.
Daar word ek toe wakker met die hoofpyn van sewe en twintig pa's wat nou net uitgevind het hulle tienerdogters is swanger. En dis hoekom ek tot vandag toe nog 'n vrees het vir Kremetartbome, en Joolkoninginne.
Die Wit Rus