Affies
Al wou ek nou al ´n hele ruk iets skryf oor my
tyd op hoërskool, was ek nog altyd bietjie lugtig daarvoor. Eerstens omdat ek
bang is ek los iets uit en tweedens omdat ek bang is vir potensiële
skadevergoeding eise. Maar ek gaan iets uitlos, mens pas nie vyf jaar in een
skryfstuk nie. En ek ken nou ´n paar goeie prokureurs, so ek dink dit het nou
tyd geword;
Ek was in die Afrikaanse Hoër Seunskool in
Pretoria – Affies. Ek is bewus van die kwaadwillige gesindheid waarmee verskeie
mense van my alma mater skinder en die breinlose grappe wat hulle uitdink. Dit
alles omdat hulle, hulle tyd op hoërskool gehaat het en nie kan verstaan dat
enige persoon dit kon geniet het of trots kan wees op ´n skool nie. Wel die feit
bly staan; toe daardie mense goed aanmekaar gesweis het terwyl die A-team se
temalied kliphard in die agtergrond geblêr het. Toe hulle in LO geleer het hoe
om lemmetjies onderaan hul tokse vas te skroef en
mekaar met bobejaanspanners gemoer het. Toe hulle mat gom onder die paviljoene
gesnuif het om te vergeet van hulle doellose bestaan, het ons daar in Affies die
tyd van ons lewe gehad;
Ek onthou die dag goed wat ons juffrou van
Loggerenberg se pienk golfie opgetel en dwars tussen twee bome gesit het. Nugter
alleen weet hoe sy daar uitgekom het. Daar was minder as twee sentimeter tussen
die voorste buffer en die boom en nog minder agter. Gelukkig het ons afgesien
van die plan om hom op sy dak neer te sit – so ´n golfie is blerrie
swaar.
Mnr Potgieter het altyd iets in Duits gemompel,
wat soos scheisse geklink het, as die juffrou Nel ´n kind met tas en al
uit haar klas gegooi het. Dít was nou vir jou ´n sterk vrou, seker maar Duitse
bloed of iets. Sy het eenkeer vir Mampoos, wat toe so 110 geweeg het, met sy tas
én krieket kit by haar klas uit gegooi – dit was net das, der, den en
daar trek hy.
Mnr Koot Trahms, wat ongelukkig intussen
oorlede is, was een van die kleurvolste karakters in die skool. Ons het altyd
gesê; never say Koot, say Trahms. Mnr Trahms was die houtwerk onderwyser
en het ´n graaf ´n graaf genoem. Ek onthou nog die eerste keer wat ek hom hoor
praat het; ¨Watse ^@#$ het nou weer aan hierdie &#@$*# diepte skaaf gaan
stel !!¨ Daar was ook die keer wat hy ons aangehits het om ´n hele asblik vol
saagsels oor Mossel se kop uit te keer, maar hom darem ´n sigaret gegee het om
jammer te sê. Behalwe vir sy rowwe metodes was hy een van die beste mense wat ek
nog die voorreg gehad het om te ontmoet – hy wou selfs aan die einde van die
jaar ´n houtwerk foto laat neem maar het nooit daarby uitgekom nie, iets waaroor
ek baie spyt is.
¨Coach¨ of liewer Mnr Visagie, soos leerlinge
wat nie in die negende span was nie hom genoem het, het eendag ¨kontras¨ in die
Afrikaanse klas verduidelik. Hy het omgedraai om iets te sê toe hy net die
eerste helfte van die woord op die bord klaar geskryf het. Jan Greef was vinnig
om hom daarop te wys dat hy nie sulke vieslike woorde op die bord kan skryf nie.
Nodeloos om te sê het ons toe maar nooit kontras behandel nie - daardie man was
bloedrooi. Coach het ook al ´n leerling ´n springbok-gehalte plettervat gegee
met ´n weghardloop sessie – so in die kortrib. Gelukkig was daardie tyd se
leerlinge nie so liggeraak soos party van vandag se poeier gatjies nie, anders
het hy verseker in die tronk geslaap.
Die Kuns juffrou se dogter was ´n ongelooflike
mooi swemmertjie en eie aan ons verbeeldingryke koeterwaals, het ons vir haar ´n
bynaam uitgedink. Baie mense noem nou nog vir Lize die KJSD – Kuns
Juffrou Se Dogter.
Juffrou le Roux was nou vir jou ´n plesier van
´n mens. Almal het haar juffrou Liewe Heksie genoem. Dit klink nou simpel, maar
ek dink sy´t regtig oor een of ander toorkrag beskik. Elke Maandag het sy
presies geweet waar almal die naweek was en wie ¨ook maar lekker agter die
meisietjies in Hatfield rondgehardloop¨ het. Omdat ek en haar man dieselfde van
het, het sy dadelik aangeneem dat ons direkte familie is en my daagliks
uitgetrap omdat my familie so suinig is en Mossie breinselle het. Eendag as ek
ryk is gaan ek nog vir haar daardie pêrel oorbelle koop wat sy my elke dag voor
gevra het – haar man ¨wil mos niks weet nie.¨
Van al die onderwysers het díe wat Ekonomie
aangebied het die ergste deurgeloop. Eers was daar Koper Koos (sulke blink
oranje hare gehad) wat elke keer daarvoor geval het as iemand vir hom sê daar is
´n lelike woord op die bord geskryf en nes hy omkyk; ¨Nekstut!!!¨ Dan was daar
ook Mnr Deon Botes, alias Neon Deon, Purple Turtle of Baywatch, wat ´n hele
kwartaal geglo het Mampoos is die skool se Sumo span. Ek glo nie hy onthou een
van ons se regte name nie. Sien, die eerste dag toe hy ons wil leer ken het
elkeen vir hulself ´n bynaam uitgedink. Die hele klas het ook per geleentheid
¨vergeet¨ om ons name op ´n klas toets te skryf. As ek hy was het ek verseker
daardie dag iemand verwurg.
Die boonste klaskamers van die skool se
vensters begin eers kophoogte. Gevolglik kan ´n mens van binne net die boonste
helfte van iemand se kop sien as hulle verby loop. Dis uit een van hierdie
klaskamers wat die wiskunde juffrou eendag drie manne uitgejaag het. Toe ons
weer sien kom Grant so mooi in die venster verby geswem, net bo die
vensterbank. Die ander twee het hom natuurlik tot op die perfekte hoogte getel
en stadig onder geloop terwyl hy sy borsslag geoefen het. Net voor die juffrou
in trane uitbars (ek weet nie of dit dalk van lag was nie) kom hy weer ander
kant toe - hierdie keer rugslag.
My claim to fame, as mens dit so kan
noem, is dat ek ´n tradisie in Affies begin het. Ek en my maat Stefan het elke
pouse op ´n Vrydag die ouens so ´n bietjie aangehits om Saterdag na die rugby te
gaan kyk. Ek het ´n toespraak gelewer met ´n grys pak (so ewe siener van
Rensburg), hoed en dikraambrille. Stefan het met ´n beblomde rok, twee Pomelo´s
vir borste en hopeloos te veel Lipstiffie wydsbeen neffens my op ´n stoel gesit
en probeer preuts lyk. Die legende van Hertzog en Gertie leef nou nog, sewe jaar
later, voort.
Net voor ek afsluit moet ek ´n bietjie
bieg;
1. Mnr Jan Swan – dit was ons wat die Baber
agter in die klas weggesteek het. Jammer daaroor. Nie een van ons het gedink die
reuk sal in absoluut alles intrek nie.
2. Juffrou van Tonder – ek het nie regtig by
juffrou toesig gehad nie. Verstaan tog dat geen man ´n hele skooldag in
skool-lighties se puisie gevrete kan vaskyk nie. Juffrou was immers ´n roos
tussen die dorings.
3. Juffrou Spengler – dit was ek wat juffrou se
band een pouse afgeblaas het, ek haat mos Macbeth. Soos Leon Schuster gesing
het; Engels was ´n sware kruis. Sorry ma´m.
4. Mnr Potgieter – daardie klas toets waarvoor
ek 90% gekry het was nie my fenomenale breinkrag nie, al drie opstelle was onder
my kortbroek op my bo-been geplak, jammer.
Vir die manne wat nou op Affies
is;
Julle is in goeie hande, al dink julle nie nou
so nie.
Moenie hardegat wees met Kobus Louw nie, hy sal
jou kop van jou lyf af knyp met sy een hand.
Veg jou eie oorloë op skool, dit is goeie
oefening vir die dag as mammie en pappie nie meer daar is om jou uit die
moeilikheid te help nie. As jy windgat voor jou vriende wil wees moet jy die
gevolge self dra, dis hoe die lewe werk. Vir elke aksie is daar ´n
reaksie.
Dis nie nodig om ´n selfoon in die skool te hê
nie. Jy is nie so belangrik nie. Onthou waar het daardie gier begin –
Waterkloof.
´n Ou met die naam Thomas Banacek het gesê:
¨Though the hippopotamus has no sting on its tail, the wise man would rather be
sat upon by a bee.¨ Party van daardie bloubaadjies oorkant die pad klap regtig
seer.
Al is Mnr Deysel effe aan die kort kant kan hy
´n lat op jou gat breek dat jy dubbel vou van die pyn, al mag hy nie meer
nie.
Maak nie saak of jy haar in jou drome sien as
´n draak met vier koppe en ´n vurk stert nie, ´n onderwyseres bly ´n
dame.
Julle kan met baie meer wegkom as wat julle
dink, doen dit net slim en met geen bose intensies nie.
Onthou tog hierdie woorde van
Langenhoven;
¨Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir
jou vriend, jou hart vir jou ewemens, jou oordeel vir jouself en jou gewete vir
jou God.¨
Die Wit Rus