Aardklop


Die oorsprong van musiekfeeste kan terug getrek word na die sesde eeu voor Christus, toe die antieke grieke musiek kompetisies in Delphi gehou het, ter eer van die god Apollo. Later is die eisteddfod in Wallis in die 12de eeu gehou en die Meistersingers sang kompetisie van Duitsland dateer uit die 13de eeu. Min het hierdie pioniers van die moderne musiekfees geweet wat eeue later, in ´n land wat nog ontdek moes word gaan gebeur.

Aan die suidpunt van Afrika het die feeste in Afrikaans die laaste paar jaar een vir een opgeskiet tot groot onsteltenis van die preutses en tot groot blydskap van kunstenaars en hulle ondersteuners...


Aardklop 2005, was dit nou ´n belewenis. Nie eers op televisie het ek al so baie pragtige asters op een plek gesien nie. En nog nooit soveel talent op een dag aanskou nie. Goeie beplanning aan die kant van die organiseerders het verseker dat hierdie jaar ´n reuse sukses was en dat almal hulself ten volle geniet het met die minimum moeite. Daar was wel ´n paar elemente wat totaal onaanvaarbaar was op ´n afrikaanse fees, maar daaroor wil ek nie nou uitbrei nie. Klipdrift het weer ´n ongelooflike advertensie-veldtog geloods en die produk is mildelik gebruik. Wat my veral opgeval het, is dat dit ´n vriendelike fees was. As in ag geneem word dat die hoeveelheid drank wat op die fees beskikbaar was, die potensiaal gehad het om die lont te wees vir ´n tweede Altamont fees, is ek regtig trots op my-se-mense. Ons volkie se regte boere-maniere het mooi deurgeslaan.

Van die groepe wat my hierdie jaar beïndruk het was;


Die Melktertkommissie:

Wat kan ek sê? Ek´s verlief. Ek het altyd gedink dat Lise Swart die mooiste stem in die wêreld het maar dis nou vir my duidelik dat sy daardie kroon met Lucinda deel. Die lirieke is (om die terte se woorde te gebruik) so skerp soos Roman op Days. Die musiek-styl is vars, eerlik, oorspronklik en gee jou partykeer van kop tot tone hoendervleis. Aan die pokeliengkies en manne van die Melktertkommissie; wel gedaan, julle is op die regte pad.


Beeskraal:

Die Beeste het sewe jaar oud geword op hierdie jaar se fees en daar is steeds geen keer aan hulle gewildheid nie. Die liedjies van die nuwe album het jonk en oud op hulle voete gehad. Veral ¨Duisend ure¨ en ¨Tokkelos¨ is liedjies wat mens net nie kan vergeet nie. Hulle is legendes in die bedryf en almal kon sien waarom. Oudergewoonte het hulle ondervinding deurgeslaan in die kwaliteit van die klank op al hulle vertonings. Beeskraal bly die enigste groep wat regte, egte rock in Afrikaans aanbied en ek daag enigiemand uit om my verkeerd te bewys. Charlie en Michael; Viëtfuckingnam!


Adam Tas:

Ek het ´n voëltjie hoor fluit dat sy nuwe album ´n hele paar ore gaan verras, en as mens so na die gehore gekyk terwyl hy speel, kan ek dit goed glo. As jy al ooit gewonder het hoe iemand lyk wat dit uit sy hart geniet om dromme te speel, hou bietjie vir Daniel Roos dop. Dís waaroor musiek-maak gaan; om jouself te geniet en nogsteeds ´n kwaliteit vertoning te lewer. Briljant !


MD Greyling:

Ek is glad nie ´n groot fan van al die Suikerbossie covers wat die laaste tyd geskryf is nie, maar ek moet bieg; die Lukas Maree verwerking wat MD sing is fantasties. Mens kan duidelik hoor dat hy en sy groep elke liedjie wat hulle doen ordentlik in-oefen. Hulle harde werk gaan verseker dat hulle ´n lang en markwaardige loopbaan in afrikaanse musiek gaan hê.


Daar was ook ´n paar ander kunstenaars wat hulle Buffalo´s (met flamme op) volgestaan het. Die backbeats het geboom en die danspassies het die tannies laat hyg - ek wonder partykeer waar hierdie ouens die energie vandaan kry. Daars party van hulle shows wat snaakser was as enigiets wat Casper de Vries nog ooit gedoen het, maar sonder hulle sou die fees net nie dieselfde gewees het nie.


Ek dink nie ons ¨gewone mense¨ verstaan altyd wat die kunstenaars, organiseerders en werkers (veral die stalletjie-tannies) by so ´n fees regtig deurgaan om van alles ´n sukses te maak nie. Baie dankie aan almal betrokke en veral die kunstenaars wat hulle talente met almal gedeel het. Ek glo almal wat hierdie jaar op Aardklop was besef dat hier selfs nog groter dinge oppad is.


Die Wit Rus